AfriForum veg vir die wegdoen met mynbou naby Krugerwildtuin

Deur Carina Bester │ Foto’s: Verskaf

Belangrike opdatering: Sedert die publikasie van hierdie artikel in November 2025 het belangrike nuwe verwikkelinge in dié saak gekom. Lees die mediaverklaring hieroor hier.

Die voortbestaan van die Nasionale Krugerwildtuin, een van die land se bekendste nasionale parke, word al etlike jare lank bedreig deur mynboumaatskappye se pogings om regte vir die oprigting van ’n steenkoolmyn op die Kruger se voorstoep te kry. Indien dié aansoeke sou slaag sal die beplande mynbouaktiwiteite verreikende gevolge vir sowel die park as die omliggende omgewing inhou. AfriForum veg reeds jare lank ’n verbete stryd teen hierdie beoogde mynbouplan.

Die begin van AfriForum se stryd

In 2019 het dit aan die lig gekom dat Manzolwandle Investments steenkool in ’n 18 000 ha-gebied digby die wildtuin wil myn. Hierdie mynboubedrywighede sou die onmiddellike omgewing – waaronder die Krokodilrivier en ander waterbronne, natuurreservate, wildlewe, asook Mpumalanga se padinfrastruktuur en boerderyaktiwiteite – ernstig bedreig.

AfriForum se regspan het reeds in 2019 ’n skrywe aan Singo Consulting, die maatskappy wat die voorgenome projek se omgewingsimpakstudie behartig het, en Manzolwandle Investments gestuur aangesien die korrekte prosesse met die aansoek nie gevolg is nie. Nie net het die partye nie genoegsame inligting oor die voorgestelde myn bekendgemaak nie, hulle het ook nie behoorlike konsultasie onderneem of openbaredeelnameprosesse gevolg nie. Dus het die belanghebbende partye nie die geleentheid gehad om as belangegroepe te registreer nie en is geen dokumente soos ’n omgewingsimpakstudie beskikbaar gestel nie.

AfriForum het in hierdie tyd met die Marlothpark-belastingbetalersvereniging en ander belanghebbende partye ontmoet om die mynproses teen te staan, en is ook later as ’n belanghebbende en geaffekteerde party geregistreer.

Die veldtog om die beoogde mynboubedrywighede stop te sit is in Augustus 2019 verder verskerp toe AfriForum ’n strafregtelike klagte teen Singo Consulting by die Komatipoort-polisiestasie ingedien het. Dít het gevolg nadat dit aan die lig gekom het dat die maatskappy na bewering bedrog in die vorm van plagiaat in hul omgewingsimpakstudie gepleeg het. Dié impakstudie het woord vir woord ooreengestem met ’n ander myn s’n.

Op 28 Oktober 2020 het daar uiteindelik ’n positiewe wending in die Manzolwandle-aansoek gekom toe die Departement van Minerale Hulpbronne en Energie (DMHE) geweier het om omgewingsmagtiging vir die projek toe te staan – ’n besluit wat planne vir mynbouaktiwiteite hier in sy spore gestuit het. Die departement het ’n rits redes vir dié afkeuring voorgehou en onder meer aangevoer dat die omgewingsimpakstudie nie voldoende spesialisstudies bevat het nie en ook nie belanghebbende en geaffekteerde partye se bekommernisse of kommentare in berekening gebring het nie.

Die vreugde was egter van korte duur want Manzolwandle het spoedig teen die DMHE se besluit geappelleer en teen Februarie 2021 het die toenmalige minister van Omgewingsake, Barbara Creecy, Manzolwandle se appèl toegestaan en ingestem dat die omgewingsimpakstudie weer vir oorweging ingedien kon word.

AfriForum het dié besluit ten sterkste teengestaan en in Maart 2022 ’n hofbevel bekom om Creecy se besluit om die omstrede mynbouaansoek te laat hersien, tersyde te stel.

Dieselfde maatskappy en aansoek, net ’n nuwe naam

In 2021 is ’n nuwe aansoek om mynbouregte op grond reg suid van die Krugerwildtuin gebring. Hierdie keer het Tenbosch Mining – wat Manzolwandle Investments intussen oorgekoop het – aansoek gedoen om steenkool in die gebied te ontgin.

Die omgewingskonsultant Limp Earth & Environmental, wat in Mei 2021 namens Tenbosch Mining die openbaredeelnamevergadering gelei het, kon egter nie tydens dié vergadering die toepaslike inligting aan die publiek beskikbaar stel nie. AfriForum se regspan moes boonop ’n versoek aan die omgewingskonsultant rig sodat die nodige dokumente vir kommentaar aan die belanghebbende en geaffekteerde partye gestuur word.

In Oktober 2022 het Tenbosch Mining egter sy 2021-aansoek teruggetrek.

Aansoek gaan wéér voort

Teen Mei 2023 kom die nuus dat Tenbosch sy aansoek vir ’n mynboulisensie en omgewingsgoedkeuring weereens hervat het. AfriForum is ná maande weer as ’n belanghebbende en geaffekteerde party geregistreer nadat die organisasie se regspan moes toetree. Die organisasie het ook omvattende kommentaar opgestel wat verskeie onreëlmatighede in die voorgestelde omgewingsimpakstudie uitgewys het.

“Die feit dat AfriForum die omgewingskonsultant met regstappe moes dreig voordat ons as belanghebbende party geregistreer is, is tekenend van die slinkse manier waarop die applikant probeer om die proses te manipuleer en sy verpligtinge te omseil,” het Lambert de Klerk, bestuurder van Omgewingsake by AfriForum, destyds gesê.

Volgens hom moet mynregte nooit aan ’n onbetroubare maatskappy toegestaan word nie.

’n Nuwe weergawe van die omgewingsimpakstudie deur Kimopax, die omgewingspraktisyn vir Tenbosch, is in 2024 beskikbaar gestel, maar het steeds misluk om aan die voorvereistes te voldoen. Volgens De Klerk het belangrike feite in die studie ontbreek, verkeerde wetgewing is aangehaal, navorsing was karig en ’n tekort aan spesialisstudies was weer ooglopend. Dit het ook nie aan die voorgeskrewe protokol van die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing (DBVO) voldoen nie.

2025 en die stryd duur voort

Vroeg in 2025 het dit aan die lig gekom dat Kimopax belangrike inligting rakende die omgewingsimpakstudie net met sekere belanghebbendes gedeel het. AfriForum meen dit verontagsaam die regulasies vir openbare deelname en wek kommer oor die integriteit van die omgewingsimpakstudieproses.

Ingevolge die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur 107 van 1998 en die gepaardgaande regulasies moet alle partye wat as belanghebbende en geaffekteerde partye geregistreer is in relevante kommunikasie ingesluit word en ’n redelike geleentheid gegun word om kommentaar te lewer op die voorgestelde aktiwiteite.

AfriForum het, om die aansoek verder teen te staan, ’n skrywe aan die DBVO en Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (Sanparke) gestuur waarin die organisasie waarsku dat Tenbosch Mining se aansoek ’n gevaarlike presedent vir soortgelyke mynbouvoorstelle in sensitiewe ekologiese gebiede kan skep. ’n Beroep is ook op die DBVO en Sanparke gedoen om hul standpunt oor die mynaansoek bekend te maak en om onder meer ’n formele ondersoek van stapel te stuur na die prosedurele mislukkings wat in die omgewingsimpakstudie geïdentifiseer is.

’n Regskrywe is ook aan Kimopax en die DMHE gestuur oor onreëlmatighede met die omgewingsimpakstudie. Dit blyk dat ’n nuwe weergawe in 2025 ná die spertyd ingedien is wat boonop wesenlike veranderinge bevat wat nooit aan die publiek bekend gemaak is nie.

Hennie Bekker (AfriForum se koördineerder vir die Mpumalanga Hoëveld) en Lambert de Klerk (bestuurder van Omgewingsake by AfriForum) en Cindy Benson (hoof van die Marlothpark-belastingbetalersvereniging) in 2019 toe AfriForum ’n strafregtelike klagte teen Singo Consulting by die Komatipoort-polisiestasie ingedien het.  

Terwyl AfriForum nie gekant is teen verantwoordelike mynbou nie, dring die organisasie egter daarop aan dat alle wetlike en omgewingsprosesse gevolg moet word.

Dit het intussen teen September 2025 aan die lig gekom dat beweerde onwettige boor- en verkenningsaktiwiteite reeds plaasvind sonder die goedgekeurde omgewingsimpakstudie of omgewingsbestuursprogram, asook sonder die grondeienaars of huurders se toestemming. AfriForum se regspan het gevolglik ’n skrywe aan Tenbosch Mining, Black Tip Drilling en Kimopax gerig om dié aktiwiteite te staak.  

“Ons sal voortgaan om hierdie mynaansoek teen te staan aangesien dit ’n wesenlike omgewingsbedreiging vir die Krugerwildtuin en die omliggende gemeenskappe inhou,” sluit De Klerk af.

Ons-sal-self
Studiefondstrust
Teater-ad
Weg met myn by Krugerwildtuin