Deur Ilze Nieuwoudt │Foto’s: Ilze Nieuwoudt en verskaf
Dekfoto: Johan Jordaan en Michael Germishuizen van AfriForum se herwinningsentrum in Centurion aan die werk. Herwinningseenhede soos dié is daarop gemik om die las op munisipale vullisterreine te verlig.
Die meerderheid munisipaliteite landwyd is nie meer in staat óf bereid om basiese funksies van dienslewering te verrig nie. Dít is Marais de Vaal, raadgewer vir Omgewingsake by AfriForum, se skokkende gevolgtrekking nadat die organisasie se jongste vullisterreinouditverslag bevind het dat vier uit elke vyf vullisterreine in die land nie eens voldoen aan die mees basiese maatreëls om die gemeenskap en omgewing teen besoedeling te beskerm nie.

Dié jaarlikse ouditverslag is in September vrygestel en bevat die resultate van oudits wat in al nege provinsies onderneem is by 169 vullisterreine, oftewel nagenoeg ’n derde van alle terreine in die land. Uit die 169 terreine wat vanjaar geoudit is, kon net 38 die oudit slaag. Hierdie omvangryke oudit skets ’n kommerwekkende prentjie van afvalbestuur en wys reeds sonder twyfel dat sekere provinsies op ’n omgewingsramp afpyl.
Hope probleme op SA se ashope
Volgens De Vaal, wat ook die verslag saamgestel het, is munisipaliteite veronderstel om gemeenskappe teen besoedeling te beskerm, maar aangesien gevaarlike toestande en wetteloosheid by die meeste vullisterreine en oorlaaistasies heers, is omgewingsbesoedeling telkens aan die orde van die dag.
Algemene probleme by die terreine wat die oudit gedruip het sluit in gebreekte weegbrûe, ’n gebrek aan toegangsbeheer en sekuriteit én die storting van skadelike vullis weens vragte vullis wat nie na behore ondersoek word nie. ’n Algehele gebrek aan kompaktering en bedekking van vullis is ook algemeen op hierdie terreine, asook die voorkoms van brande, afwesige personeel en die teenwoordigheid van informele herwinnaars wat in onveilige toestande sonder beskermende toerusting of munisipale registrasie op vullisterreine werksaam is.
Saamwerk nou enigste uitweg
Nouer samewerking tussen munisipaliteite en gemeenskappe is nou noodsaaklik en die enigste volhoubare manier om aan gemeenskappe se behoefte vir verantwoordelike vullisbestuur te voldoen, beklemtoon De Vaal.

As gevolg van munisipaliteite se voortgesette gebrek aan behoorlike dienslewering word individue met geen ander keuse gelaat as om alternatiewe op die been te bring om gemeenskapselfstandigheid te bewerkstellig nie, verduidelik De Vaal. En hoewel AfriForum die ouditbevindings aan die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing gaan voorlê en eis dat munisipaliteite aanspreeklik gehou word vir hul mislukte pogings om vullisterreine te bestuur, sal die organisasie ook voortgaan om gemeenskapsgebaseerde oplossings te bevorder. AfriForum beoog daarom om sekere projekte, soos sy vullisverwyderingsdiens in Bloemfontein en landwye herwinningsprojekte, nou uit te brei om deur selfdoen verval op munisipale vlak teen te werk.
AfriForum se volledige ouditverslag is hier.