Deur Marthinus Koekemoer │Foto’s: Verskaf
Dekfoto: Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap
AfriForum het in Augustus 2025 skriftelike kommentaar by die Oudtshoorn Plaaslike Munisipaliteit ingedien oor laasgenoemde se voorneme om 15 erwe in dié dorp te verkoop. Hierdie erwe dien tans as openbare ruimtes en parke. Die munisipaliteit beplan om hierdie erwe tydens ’n openbare veiling te verkoop.
AfriForum meen egter dat die voorgenome verkope strydig is met die munisipaliteit se eie geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) en ruimtelike ontwikkelingsraamwerk. Die GOP maak onder meer melding van die behoefte aan meer openbare ruimtes om voorsiening te maak vir bevolkingsgroei. Daar word ook in die plan geraam dat meer as 900 nuwe huishoudings teen 2030 op Oudtshoorn sal vestig, wat die behoefte aan meer eerder as minder openbare ruimtes noodsaak.
“Oop openbare ruimtes is noodsaaklik vir gesonde, inklusiewe en lewensvatbare gemeenskappe,” sê Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap. “Hierdie ruimtes bevorder en verbeter fisieke en geestesgesondheid, skep geleenthede vir sosiale integrasie en verhoog omliggende eiendomme se waarde. Die verlies van sulke ruimtes is onomkeerbaar.”
Volgens City Parks Alliance, ’n Amerikaanse organisasie wat hulle beywer vir die bevordering van parke in stedelike gebiede, speel parke oor die algemeen ’n waardevolle rol in stede om ’n aktiewe lewenstyl aan te moedig. Dit kan volgens dié organisasie werkskepping aanmoedig en stres op infrastruktuur verminder deur byvoorbeeld te help om vloede te mitigeer, terwyl boomryke parke ook help om lugbesoedeling te verminder. In die geval van Oudtshoorn, met sy snikhete somers, is boomryke ruimtes boonop van kritieke belang aangesien parke ook help om die impak van hittegolwe te verminder.
“Ons het die munisipaliteit daarop gewys dat hulle meer as 1 000 erwe as vakant lys en gevra hoekom hulle dan eerste die parke wil verkoop. Hul antwoord was vaag, maar het daarop neergekom dat hulle meen daar is ’n groter behoefte aan meer laekostebehuising en dat daar vir hierdie doeleindes plek gemaak moet word. Daar word dus beplan om die parke aan ontwikkelaars te verkoop vir die oprigting van woonstelblokke,” vertel Donovan Kleinhans, voorsitter van AfriForum se Oudtshoorn-tak.

Kleinhans meen voorts dat dié munisipaliteit in ’n finansiële verknorsing is en dat die probleem uitkring. “Die munisipaliteit se instandhouding kom neer op krisisbeheer. Net die ergste probleme word getakel, want daar is nie geld vir meer nie. Daar is 14 jaar laas behoorlike onderhoud aan die paaie gedoen. Verskeie bronne sê daar is grootskaalse wanbesteding en korrupsie in die munisipaliteit. Hulle moet eerder hul huis in orde kry as om die stad se parke te verkoop om die begroting te laat klop.”
AfriForum het die munisipaliteit intussen daarop gewys dat finansiële oorwegings nie as geldige rede aangevoer kan word om hierdie grond te verkwansel nie, aangesien meer gemeenskapsbetrokkenheid byvoorbeeld kan help om die finansiële druk om parke in stand te hou, te verlig. AfriForum het in 2019 bome in Luscombepark in die suide van die dorp aangeplant en gereeld water gegee. In 2023 het die tak die instandhouding van dié park uitgebrei en in 2024 ’n soortgelyke projek by Middelwegpark van stapel gestuur. Hierdie twee parke het intussen ontwikkel tot ware lushowe wat graag en gereeld deur die gemeenskap besoek word. Met die gemeenskap se hulp meen Kleinhans sal AfriForum selfs meer parke in Oudtshoorn kan onderhou.
“Die korttermyninkomste wat ’n veiling sou inbring weeg nie op teen die langtermynverlies van gemeenskapsbates nie,” voeg Erasmus by. “Ons het meer parke en openbare ruimtes in Oudtshoorn nodig – nie minder nie. AfriForum sal verdere stappe oorweeg as die munisipaliteit met die voorgenome verkope probeer voortgaan.”

AfriForum het twee parke in Oudtshoorn aangeneem en sien nou na hulle om. Die Oudtshoorn Plaaslike Munisipaliteit dreig egter om verskeie parke in die dorp te verkoop om kwansuis plek te maak vir laekostebehuising.